Featured

Gooi weg die blikkieskos! Gee regte kos!

Daar is ‘n engelse gesegde: I have a bee in my bonnet… Ek dink dit moet nogal ongemaklik wees, mens wil regtig daardie bytjie daar uit kry. My “by inni kappie” gaan oor my frustrasie met blikkieskos. Ek is nie ‘n voorstaander van geblikde voeding nie. Dit proe net lekker as dit te veel suiker, sout en presevering het. Dit is my sterk mening dat noodledigings organisasies wat blikkieskos gee nie hulle somme behoorlik gemaak het nie en nie behoorlik navorsing gedoen het nie.

Daar is twee geleenthede in my lewe waar blikkieskos vir my gewerk het.

In die vroeë negentigs het ek die absolute voorreg gehad om twee keer stranddiens te gaan doen op Jakkalsputz in Namibia. As jy lief is vir spasie en vir die see is Jakkalsputz die plek. Dit is ‘n woestyn strand en daar is niks behalwe ‘n enkele ablusieblok waar mens daagliks 7 minute se warm stort water kon koop en ‘n ry kampplekke reg langs die strand af. Daar het ek my eerste vars vis geëet en daar het ek ook een seldsame keer iets uit ‘n blikkie geëet wat regtig lekker was. Dit was ‘n ronde blikkie met ‘n tipe “boeliebeef” seker maar hoender wat in skywe gesny was en saam met eiers vir ontbyt gebraai was. Hemels lekker dankie.

Die ander keer in my lewe wat ek iets uit ‘n blikkie geniet het was op veldskool in standerd 5. Ons was na Emily Hobhouse in die Vrystaat. Die een oggend is ons dou voor dag die berg of koppie uit met sulke rooi goewerment geleende rugsakke, Ontbyt laat oggend was blikkies kos. Meer spesifiek baked beans en boelie beef! Ek moet eerlik wees baked beans en boelie beef het nog nooit weer so lekker geproe nie! Honger is waarlik die beste kok.

My derde ervaring met blikkieskos was ‘n lewensveranderende een. Ons was op ‘n gebedsuitreik na konsentrasiekampe…

Ons eerste besoek was aan Norvalspont konsentrasie kamp. Die area waar die konsentrasiekamp oorspronlik was was nie regtig toeganklik nie want daar word voluit geboer met spilpunt besproeiing. Dit was mooi wêreld, daar was ‘n boer met sy werkers besig in die een veld en ‘n spilpunt was besig om ‘n ander land nat te maak. Ons kon net by die gedenkteken gaan oplees en bid. As ek nou terugdink weet ek dit was ‘n ligpunt vir my. Soos meeste konsentrasie kampe is die grafte geskuif maar Norvalspont se geskiedenis was anders. Die eerste bevelvoerder was ene Lieutenant St John Cole Bowen en anders as in ander konsentrasie kampe is die inwoners voorsien van vars melk, vrugte en groente, hy was adminstratief en organisatories sterk. Die kamp was netjies uitgelê. Die gevolg was dat daar nie hope baba sterftes was nie. Op die gedenkteken is die jongste sterfte ‘n driejarige.

Na Norvalspont is ons Hopetown toe. Daar is ‘n konsentrasiekamp wat die murg in ‘n mens se rugraat koud laat word. ‘n Du Tiot het sy vleilandgrond aan die kakies verhuur. Na die oorlog het die oorlewendes te voet huistoe gekeer en die skaamte van wat daar gebeur het is onder die sand van tyd toegewaai tot dat die Wiid gesin die plaas gekoop het. Hulle het dan ook een winderige dag toe hulle Nguni beeste gaan aankeer het in die veld die witsirkels van klippies wat tente op die grond moes hou tee gekom. Doornbult konsentrasiekamp se grafte is nie geskuif nie. Die veld is nog soos dit gelos is na die oorlog. Dit was ‘n wrede plek, al die babas wat daaraangekom het was binne nege maande dood. Die veld lê vol getuienis in die vorm van geroeste blikkieskos ringetjies, stukkende emmers wat blykbaar lekkend daar aangekom het, doringdraad en kinderspeelgoed gemaak van wat ook al beskikbaar was. Ek onthou ‘n verduideliking van rantsoen van ‘n kwart blikkie kondensmelk en die stil wete in my binneste dat ek nog nooit van blikkieskos gehou het nie. Karige swak voeding, haglike leef omstandighede en Masels, Difterie en Kinkhoes het bygedra tot sterftes.

Die grootste verskil tussen Norvalspont en Doornbult was die oprigting van ‘n netjiese kamp en toegang tot vars kos.

Vir maande al broei ‘n woedende vraag in my binneste. Ons leef in ‘n grendelstaat, arm is nou baie armer en die nood enorm groot maar die staat en noodlediging organisasies, selfs kerke, bly blikkieskos aan dra. Waar is die logiese denke daarin? Dit wil vir my grens aan malligheid!

Wat word deur elke gesondheidkundige wat sy/haar sout werd is aanbeveel om die siekte die hoof te bied, vitamien aanvullings, reg eet, gesonde leefwyse! Hoekom gee ons blikkieskos terwyl mens butternut, beet, botterskorsie, wortels, patats en aartappels en kool en bone en lemoene kan gee.

Hoekom gee ons die hedendaagse patetiese “boelie beef” terwyl ons vars eiers kan gee en mieliepap wat GMO vry is? Gaan kyk bietjie, gesonde vars produkte werk goedkoper uit. Toe ek ‘n kind was het die ooms altyd vir die seuns gesê hulle moet maar ‘n bietjie meer mieliepap eet as hul spiere te effentjies was. HULLE WAS REG. Ek het gaan navorsing doen oor die voedingswaarde van rys teenoor mieliepap en mieliepap wen by verre! Ek vervang nou gereeld rys met mieliepap. Dit werk heerlik saam met ‘n bredie en dit maak my manne se mae vol.

Ons moet ophou om mense wat in nood is toe te gooi met dooie kos. Gooi weg die blikkieskos. Gee regte kos! Daar is ‘n rekord groente oes in ons land, ons kan mekaar help deur lewende kos te gee! Hoe maak ‘n mens’n verskil? Jy praat oor wat nie werk nie en help om dit wat werk in werking te stel. Ek sê weer! Gooi weg die blikkieskos. Gee regte kos!